Die Springbok-vroue het ‘n sterk oefensessie teen ‘n Franse topspan in Marcoussis geniet met die hulpafrigter Laurian Johannes-Haupt wat die span se vermoë om die intensiteit van een van die wêreld se bestes te ewenaar geprys het.
Ten spyte daarvan dat Frankryk diep in hul Sesnasies-veldtog was en Suid-Afrika eers hul seisoen begin het, het die Bok-vroue hul eie in die skrums, lynstane en wedstrydscenario’s gehou en duidelike tekens van vordering getoon voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Augustus.
‘n Belangrike hoogtepunt was die blootstelling wat minder ervare spelers geniet het met al 29 spanlede wat ‘n voorsmakie van hoëvlak-rugby gekry het.
Volgende pak die Springbok-vroue Saterdag ‘n o.20- en o.23-span van Engeland voor hulle op 19 April na Spanje vertrek vir ‘n toets teen die nasionale span in Alicante.