RUGBY – Die Springbokke het Suid-Afrikaanse ondersteuners se harte warm laat klop nadat hulle Australië in die 1ste wedstryd van die Rugby Kampioenskaps-reeks met 43 – 12 op Loftus Versveld verpletter het.
Speler-van-die-Wedstryd Kurt-Lee Arendse was absoluut briljant en is met 3 van die span se 6 drieë beloon. Die Bokke se selfdissipline was puik en het net 3 strafskoppe afgestaan waarteenoor die Wallabies die Nieu-Seelandse skeidsregter Ben O’ Keeffe 13 keer na sy fluitjie laat gryp het.
Die Bokke pak Nieu-Seeland eerskomende naweek op Eden Park wat ook hul veldtog op ’n wennoot afgeskop het toe hulle Argentinië met 41 – 12 ore aangesit het in Mendoza.
Die Junior Bokke kon nie die senior span se spogvertoning herhaal nie en het in die halfeindronde van die o.20 Wêreldbeker-toernooi teen Ierland met 12 – 31 vasgeval.
Die Iere sal nou eerskomende Vrydagaand in die eindstryd teen die verdedigende kampioen Frankryk in die Athlone Stadion te staan kom nadat hulle Engeland met 52 – 31 uitgestof het.