RUGBY – Die Stormers het ook Saterdag ’n verspot maklike oorwinning oor die Sharks in Durban in die Verenigde Rugbykampioenskaps-reeks behaal toe hulle die tuisspan met 46 – 19 afgeransel het.
Die Kapenaars het 6 keer agter die Sharks se doellyn ’n draai gaan maak terwyl die Piesangboere net 3 keer 5-punte kon aanteken.
Die Stormers is nou 2de op die punteleer agter Leinster wat nog steeds onoorwonne is na 13 wedstryde terwyl Ulster die 3de plek beklee gevolg deur die Bulls.
Die Kapenaars se volgende wedstryd is op die 18de Februarie juis teen die einste Bulls op Loftus Versveld met diè wedstryd wat om 17:00 afskop.
SESNASIES RUGBY – Die Sesnasies-reeks het op ’n hoogtepunt afgeskop met 3 wedstryde wat die afgelope naweek beslis is.
Wallis het Ierland tuis aangedurf maar kleigetrap en met 10 – 34 teen die wêreld nommer een die onderspit gedelf. Die Iere het 4 drieë gedruk terwyl die Rooi Drake net een keer hul opponente se doellyn kon oorsteek.
In die 2de wedstyd van die dag het Engeland ’n voorsprong van 20 – 12 weggegooi en uiteindelik met 20 – 29 teen Skotland verloor. Engeland het 3 keer agter die doellyn gaan kuier maar die Skotte het teruggeveg en kon ook heel tevrede voel met hul 4 drieë.
Gister het Italië teen Frankryk uitgedraf en byna vir die grootste opskudding van die nuwe jaar gesorg toe hulle net-net met 24 – 29 teen die Hane vasgeval het.
Frankryk wat die verdedigende kampioen is sal definitief hul dissipline moet opskerp wanneer hulle die Iere volgende gaan pak terwyl die Azzurri na Twickenham opruk om hopelik die Engelse ‘n 2de pak slae binne ’n week te gee.