RUGBY – ‘n Begeesterde span voor ‘n rekord tuisskare van 26 000 toeskouers was weereens net te veel vir Suid-Afrika se 2de bestes in hul laaste wedstryd op hierdie kort oorsese rugbyuitstappie toe die Bristol Bears die besoekers gisteraand uitgestof het met ‘n telling van 26 – 18.
Die wedstryd was van begin tot einde maar ‘n droewige affêre met beide spanne wat gesukkel het om behoorlik aan die gang te kom.
In die 15de minuut was daar egter ‘n voorval waar die SA slot Jason Jenkins een van die Bears spelers met ‘n gevaarlike duikslag platgemaak het en die TV-skeidsregter se hulp ingeroep is vir die Kyk Weer – en hy het bly kyk en kyk maar kon niks sien – en dit terwyl die TV-man bly spook en spartel het om die regte beeldmateriaal te vind.
Die skeidsregter Gianluca Gnecchi het ook onseker gelyk oor hoe hy die situasie moes hanteer het terwyl die spelers ook genoeg tyd gehad het om braaireëlings te tref na afloop van die wedstryd.
Die Suid-Afrikaners het op die ou einde weer hul self gepootjie met swak taktiese skopwerk en daar was oomblikke wat belowend gelyk het maar dan het daar weer ‘n foutjie of drie ingesluip en sòdoende het die geleentheid om punte aan te teken ook skipbreuk gely.