Die Leeus is ’n gevoelige slag toegedien voor hul kragmeting Saterdag teen die Haaie op Ellispark nadat twee van sy groot staatmakers tot dusver in die VRK-reeks die naweek se wedstryd gaan misloop.

Die Springbok nommer 15 Quan Horn en belowende senter Henco van Wyk worstel met beserings. Van Wyk wat een van die Leeus is wat na die Bokke se eerste belyningskamp volgende maand genooi is sal vir drie weke langs die kantlyn sit terwyl daar nie sekerheid oor Horn se hersteltyd is nie.

Die goeie nuus vir die Rooibontes is dat die slot Ruben Schoeman sy skorsing van vyf weke uitgedien het en beskikbaar sal wees om te speel. Schoeman het in daardie wedstryd teen die Stormers die rooikaart gekry nadat hy die Kapenaars se losskakel Manie Libbok met die skouer geloop en kontak gemaak het met diè speler se kop.

Die wedstryd tussen die Leeus en Haaie skop om 14:30 af terwyl die ander Suid-Afrikaanse derby tussen die Bulle en Stormers om 17:00 op Loftus Versveld wegtrek.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×