Suid-Afrika is weer boaan die lys van ongelykste lande ter wêreld, terwyl die gaping tussen ryk en arm wêreldwyd net al hoe groter word. Dis luidens die jongste verslag oor ongelykheid van Oxfam International, ‘n vereniging van welsynsorganisasies, wat vandeesweek uitgereik is. Netwerk24 berig luidens die verslag sal dit die vyf rykste mense ter wêreld 476 jaar neem om hul rykdom teen $1 miljoen per dag uit te put, terwyl 5 miljard mense al hoe meer verarm. In Suid-Afrika besit die rykste 1% meer as 95% van effekte en aandele, terwyl 62,7% daarvan aan die rykste 0,01% behoort. Die vyf rykste mense ter wêreld het hul rykdom sedert 2020 van $405 miljard tot $869 miljard teen 2024 vermeerder. Daarteenoor het 4,8 miljard mense wêreldwyd sedert 2019 verarm, wat volgens Oxfam dui op ‘n ernstige agteruitgang in die lewensgehalte van die meeste mense.