Die Suid-Afrikaanse regering gaan weer ‘n dringende versoek tot die Internasionale Geregshof in Den Haag rig nadat dit bekend geword het dat Israel sy militêre operasies na die stad #Rafah gaan uitbrei. Rafah is die laaste toevlug vir die mense van #Gaza en die regering rig hom nou tot die hoogste hof om sy mag te gebruik om die verdere skending van die regte van Palestynse burgers te voorkom.
Rafah is die mees suidelike stad op die grens van Egipte. Meer as die helfte van die bevolking van Gaza het na Rafah gevlug. Vincent Magwenya, woordvoerder van president Cyril Ramaphosa het aan Maroela Media gesê die versoek om dringende ingryping is reeds Maandag gedoen. Die Suid-Afrikaanse regering is bekommerd dat aanvalle in Rafah tot meer sterftes en vernietiging kan lei.
Die volg nadat gesprekke oor ‘n wapenstilstand in Gaza tussen die VSA, Egipte, Israel en Katar weereens ‘n doodloopstraat bereik het. Reuters berig dit kom te midde van beroepe op Israel om nie voort te gaan met sy offensief in Rafah nie. Israel het gesê hy wil Hamas militante uit hul skuilplekke in Rafah dwing en Israeliese gyselaars wat daar aangehou word, bevry. Israel maak ook planne om Palestynse burgerlikes te verwyder.