Die Gift of the Givers doen tans alles moontlik om hulp aan burgerlikes in Gaza te verleen, veral aan pasiente in hospitale in die Noordelike dele van Gaza. Tans is dit net Palestyne wat deel is van die organisasie wat in reddingspogings betrokke is, maar volgens Ali Sablay van Gift of the Givers word ‘n span Suid-Afrikaanse reddingswerkers tans voorberei om binnekort na Gaza te vertrek. Volgens Maroela Media het die organisasie reeds mediese voorraad, medikasie en rolstoele vir beseerdes by verskeie hospitale in Gaza aangekoop sedert die Hamas-terreurgroep verlede naweek ‘n verrassingsaanval op Israel geloods het. Gift of the Givers help ook met brandstof vir ambulanse en pasiente kry klere met hul aankoms by die hospitaal. Etes word ook aan duisende Palestyne verskaf.
