Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, of SAID, is baie bekommerd oor die omvang van belastingbedrog wat deur georganiseerde misdaad, soos sindikate, gepleeg word. Die kommissaris van die SAID, Edward Kieswetter, het gesê dit is letterlik miljarde rande wat misdaadsindkate die fiskus kos en dat politici en sakelui nou in sy visier is.
Kieswetter het vandag die voorlopige syfers van die staat se belastinginkomste vir die 2023/2024 boekjaar bekendgemaak. Hy het bygevoeg die SAID gee aandag aan die probleem omdat sindikate deur openbare amptenare gesteun word of wat hulle minstens nie-regstreeks instaat stel om misdaad te pleeg. Kieswetter het ook verwys na die sluikhandel in sigarette tydens die Covid-19 pandemie wat daartoe gelei het dat die staat sowat R15 miljard se belastinginkomste verloor het. Daarna het sluikhandel in sigarette toegeneem.