Verskeie sake-organisasies, 25-duisend dokters en spesialiste asook ander gesondheidswerkers het aan die voorsittende beamptes van die Nasionale Raad van Provinsies sowel as adjunkpresident Paul Mashatile, wat die leier van regeringsake is, geskryf met ‘n dringende beroep om die Nasionale Gesondheidsversekering, of NGV, te stop. Die Wetsontwerp word môre deur die parlement se tweede huis goedgekeur. Dit volg nadat die Nasionale Raad van Provinsies se Gekose Komitee vir Gesondheid en Maatskaplike Dienste die wetsontwerp aanvaar het sonder enige wysigings aan die weergawe wat deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is. Die SA Health Professionals Collaboration, of SAHPC, is ‘n nuutgestigte groep van nege verenigings wat alle gesondheidsberoepe insluit. Die SAHPC het in ‘n verklaring gesê hulle is bekommerd oor die gevolge wat gaan voortspruit uit die haastige aanvaarding van die NGV in sy huidige formaat. Daar is ook sterk teenkanting van die Business Unity SA en Business for SA.