Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep glo beurtkrag gaan oor ‘n jaar iets van die verlede wees. Gore is deel van ‘n vennootskap tussen sakelui en die regering om die ekonomie weer aan die gang te kry. Netwerk 24 berig sowat 130 senior sakeleiers het die onderneming onderteken omdat hulle glo in die potensiaal van die land en dat hulle wil help om belangrike probleme op te los.
Van die drie prioriteite is die verste met die kragkrisis gevorder. Gore sê die draaipunt is meegebring deur werk aan die kragnetwerk en sonkragopwekkings deur huishoudings. Die ooreenkoms sluit ook die werk in van sowat ‘n honderd kundiges van die private sektor wat op verskillende vlakke in die kragnetwerk hulp verleen.
Kundiges is ook betrokke by die vervoer-en logistieke probleme in hawens maar Gore sê baie moet nog gedoen word om ‘n omdraaipunt te bewerkstellig. Die derde prioriteit is misdaad en korrupsie wat moeiliker gaan wees om op te los. Gore glo egter daar is belangrike pogings van sakelui wat vrugte gaan afwerp.