Die verhoor van ‘n Bloemfonteinse sakeman en kroegeienaar, wie na bewering ‘n skoolseun met ‘n dwelmmiddel ingespuit het, is tot volgende maand uitgestel aangesien hy glo gister ‘n operasie moes ondergaan na ‘n vroeëre ongeluk. Die Volksblad berig die man staan op aanklag van poging tot moord tereg, nadat hy die seun op 11 Desember verlede jaar glo met kristal-metamfetamien, of tik, ingespuit het. Die staat beweer die kroegeienaar het ook sy geslagsdele aan die seun, wat toe 17 jaar oud was, ontbloot. Hy het glo ook ‘n vuurwapen hanteer terwyl hy vermoedelik onder die invloed was van ‘n middel wat glo ‘n bedwelmende uitwerking het. Die beweerde gebeure het glo in ‘n kroeg in die stad begin en in die man se woonplek in Woodland Hills geëindig.
