Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, of Sanral, het gesê daar gaan tenders van meer as ses miljard rand vroeg volgende jaar vir bouwerk aan paaie regoor Suid-Afrika toegeken word. Dit volg na lang vertragings in die tenderproses weens die konstruksiebedryf se beswaar teen Sanral se voorkeur-verkrygingsbeleid. Dié beleid is geskrap, met ʼn tussentydse beleid vervang en tenders vir 77 projekte is in November geadverteer. Die uitvoerende hoof van Sanral, Reginald Demana, het in ‘n verklaring gesê Sanral het begin om die meer as eenduisend tenders se aanbiedinge vir die 77 projekte te beoordeel. Die aanbiedings wat ontvang is sluit in 124 nasionale kontrakte ter waarde van sowat R350 miljoen. Daar is ook 274 projekte vir die Vrystaat en KwaZulu-Natal ter waarde van sowat R2,1 miljard. Demana het gesê die groot aantal ondernemings wat op die kontrakte gebie het, is bemoedigend. Dit baan die weg vir meer doeltreffende samewerking met alle belanghebbendes in die bedryf.