Die agentskap vir maatskaplike sekerheid, Sassa, sê hy beoog om gesigsherkenning as ‘n veiligheidsmaatreël landwyd in te stel.
Die veiligheid en integriteit van die Sassa-stelsel was onlangs in die kollig ná bewerings deur twee eerstejaar rekenaarwetenskapstudente aan die Universiteit Stellenbosch dat hulle op uitgebreide bedrog by die agentskap afgekom het. Die studente sê hul name is gebruik in bedrieglike aansoeke vir maatskaplike hulp, maar die fondse is in ander partye se bankrekeninge inbetaal.
LEES MEER: Stellenbosch-studente ontbloot beweerde Sassa-toelaebedrog
SABC-nuus berig Sassa het in Junie ‘n biometriese identiteitsverifikasiestelsel in die Oos-Kaap geïmplementeer in ‘n poging om die risiko van maatskaplike toelaebedrog te bekamp.
Sassa se woordvoerder, Paseka Letsatsi, sê hulle beplan om die loodsprojek landwyd uit te brei. Letsatsi sê nie almal het toegang tot ‘n slimfoon nie, en daar moet seker gemaak word dat die individue by ‘n Sassa-kantoor persoonlik geverifieer kan word.