Suid-Afrikaners skuld 44 miljard rand aan uitstaande TV-lisensiegeld. Die minister van Kommunikasie, Mondli Gungubele, het op ‘n vraag in die parlement gesê dat ongeveer nege miljoen Suid-Afrikaners nie hul TV-lisensiegeld betaal het nie. Hy het bygevoeg dat die SAUK vyf miljoen van die grootste oortreders aan skuldinvorderaars oorhandig het om die uitstaande skuld te probeer verminder. Gungubele het gesê die bedrag sluit ook rente in vir lisensies wat nie betaal is nie en opgehoop het. Gungubele het gesê die departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie (DCDT), het reeds voorgestel dat die televisie-lisensie model vervang word met ‘n huishoudelike heffings-model. Terwyl daar na verandering aan die wet gekyk word, gaan die DCDT voort om in samewerking met die SAUK en die tesourie te kyk na maniere om die huidige lisensie-sisteem te verander sodat die openbare uitsaaier behoorlik befonds kan word.
