Sekswerk of prostitusie is dalk eersdaags nie meer ‘n misdaad in Suid-Afrika nie.
Netwerk24 berig dis as die Wysigingswetsontwerp op die Strafreg oor Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede uiteindelik as wet bekragtig sou word.
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag gesê die wysigingswetsontwerp is nou vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer.
Mense het tot 31 Januarie om insae vir of teen die wysigingswetsontwerp in te dien.
President Cyril Ramaphosa en sy kabinet het die publikasie van die wysigingswetsontwerp op 30 November goedgekeur.
John Jeffery, adjunkminister van justisie, het benadruk dat die regering nie standpunt inneem oor of sekswerk goed of sleg is nie.
Hy het gesê hulle probeer nie die verkoop en koop van seks bevorder nie, maar dit sal gedekriminaliseer word.