Bestuurders wat besig is op hul selfone, is die grootste oorsaak van padongelukke in die land. Discovery, wat onlangs ‘n studie oor die oorsake van ongelukke gemaak het, het bevind selfoongebruikers in ‘n voertuig is selfs gevaarliker as spoed. Maroela Media berig die studie was deel van die Verenigde Nasies se padveiligheidsprojek wat in Suid-Afrika bekendgestel is.
Volgens die hoof-uitvoerende beampte van Discovery Insure, Robert Attwell, is nagenoeg 500-duisend ritte ontleed om vas te stel wat aanleiding gee tot ongelukke. Die data het gewys selfone is die hoofrede vir padongelukke, asook swak paaie, die padwaardigheid van voertuie en bestuur onder die invloed van alkohol. Spoed is ook ‘n sondaar.