Die Blitsbokke is nou amptelik die sewes wêreldkampioene na ’n puik vertoning in Los Angeles nadat hulle Spanje in die eindstryd met 19 – 5 getroef het.
Die Suid-Afrikaners het die hele naweek skitterend verdedig en Philip Snyman se troepe het slegs agt drieê in hul vyf wedstryde afgestaan. In die eerste groepronde-wedstryd het hulle Frankryk met 19 – 10 uitgestof en daarna die onvoorspelbare Groot Brittanje met 12 – 7 in die tweede wedstryd gestuit.
Argentinië – wat die wenner van die ligafase was en bo-aan die puntelys geëindig het na afloop van die sesde toernooi in Singapoer – het met 21 – 29 die onderspit gedelf en in die halfeindronde het die Bokke gate deur Nieu-Seeland gehardloop en die Swart Truie met 26 – 5 uit die pad gevee.
Die Blitsbokke se kaptein Selvyn Davids is ook as die Speler van die Eindstryd aangewys.
*In die SABeker-reeks het die Cheetahs die Grens in die Vrystaat Stadion verniel en die Bulhonde met 106 – 7 te pletter geloop.
Die Vrystaters pak eerskomende naweek hul buurman en die verdedigende kampioen die Griekwas in Kimberley met diè wedstryd wat om 14:00 in die Diamantstad afskop.