Die meer as 5-duisend polisielede wat sedert die 2019/20-boekjaar in hegtenis geneem is vir strafregtelike oortredings, wys hoe diep misdadigheid in die polisie wortel geskiet het, het die leier van die VF Plus, Dr Pieter Groenewald gesê. Van die 5 489 polisielede was 383 weens ernstige misdade soos moord, verkragting en veediefstal in hegtenis geneem. Die minister van polisie, Bheki Cele, het hierdie syfers aan die VF Plus bekend gemaak nadat ʼn gebrekkige inligtingstelsel enkele weke gelede as verskoning aangevoer is oor waarom die syfers nie beskikbaar was nie. Van die 383 ernstige misdade waarvoor lede in hegtenis geneem is, was 84 vir moord, 109 vir roof, 79 vir verkragting, 29 vir veediefstal, 4 vir transitorooftogte en 78 vir ontvoering. Volgens die minister is geen polisielid vir betrokkenheid by ʼn plaasmoord in hegtenis geneem nie. Dit is onaanvaarbaar dat daar eers druk op die minister geplaas moes word voordat ʼn stelsel in plek geplaas is om die omvang van misdadigheid onder polisielede deur ʼn databasis gereeld op te dateer, het Groenewald gesê.