Action Society, wat die slagoffers van die bloulig-aanval op die N1 bystaan, eis dat aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, intimidasie en die rig van ‘n vuurwapen ondersoek word. Ian Cameron, Action Society se direkteur van veiligheid, het aan Maroela Media gesê sy organisasie ondersteun die slagoffers om strafregtelike en moontlike siviele aanklagte teen die beamptes en die minister van polisie te maak. Die bestuurder van die voertuig het vertel hoe die BBP-lede die voorruit wou uitslaan en toe die agterruit uitgeslaan het om hom uit die motor te pluk. Hy is met ‘n aanvalsgeweer oor die kop geslaan en herhaaldelik teen die kop geskop terwyl hy reeds bewusteloos was. Action Society het ook ‘n klag by die onafhanklike polisie-ondersoek-direktoraat ingedien. Cameron het gesê die polisie as wetstoepassers moes hierdie misdadigers dadelik in hegtenis geneem het. Hulle moes ook dadelik uit die diens van die polisie ontslaan word. Cameron het gesê die polisie se hantering van die saak is skandelik. Die betrokke lede is bloot in kennis gestel dat die SAPD hulle sal skors indien hulle nie voldoende redes kan verskaf om nie geskors te word nie.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×