Minder as ‘n vyfde van Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland woon en werk, sal wil terugkeer. Onstabiliteit, onveiligheid en beter werksgeleenthede oorsee is volgens hulle die hoofredes om eerder in die buiteland te woon en te werk. Die navorsing is onlangs deur die TEFL Academy gedoen en toon dat slegs 19% Suid-Afrikaners wil terugkeer huis toe. Maroela Media berig 25% van die respondente het gesê hulle sal beslis nie terugkeer nie terwyl 43% nog besluit. Die grootste rede hoekom Suid-Afrikaners in die buiteland werk, is beter werkvooruitsigte. Sommige respondente het genoem die salarisse in Suid-Afrika is lagwekkend min. In ‘n opvolgopname deur TEFL onder 948 Suid-Afrikaners, het 40% gesê hulle het besluit om te emigreer vir beter werksgeleenthede.
