Slegs twee van die vyf verdagtes vir die moord op die Bloemfonteinse sakeman, Angelo Restinas, sal vervolg word.
Luidens Volksblad gaan die staat voort met die sewe aanklagte, wat twee van moord en een van poging tot moord insluit, teen Ditaba Montsi en Mohau Abram Motankobe.
Die klagstaat omskryf ‘n bloedige rooftog in Julie verlede jaar, toe die verdagtes teen sluitingstyd by die Central Superstore in Central Park ingestap het.
Die eienaar, Costas Restinas, is in die been geskiet.
Sy seun, Angelo, het waarskuwingskote gevuur, waarna die beskuldigdes op die vlug geslaan het.
Angelo het hulle agterna gesit.
Hy is van agter geskiet, en het beswyk aan ‘n skietwond in sy nek.
Koenane Khoele, ‘n smous wat sy ware saans in die winkel gestoor het, is ook noodlottig gewond.