Geld wat uit smokkelary van diere en plante verdien word, loop toenemend hand aan hand met misdade soos dwelmhandel, geldwassery, omkopery, korrupsie en belastingontduiking. Dit, volgens die jongste verslag van die Wildlife Justice Commission. Die sluikhandel in natuurlewe is deesdae samelopend met ander misdade omdat meer sindikate hulle wend na die smokkel van bedreigde spesies want die aanvraag word groter. Netwerk 24 berig dat die misdadigers selde uitgevang word. Die smokkel van natuurlewe word nie meer in isolasie gesien nie, maar as ernstige georganiseerde misdaad. Sommige sindikate bedryf mikrolening-ondernemings teen baie hoë rentekoerse. Die geld wat terugbetaal word, word dan gebruik om natuurlewe te stroop en stropers te betaal. Daar is ook dikwels ‘n verband tussen die smokkel van natuurlewe, dwelms en transitorooftogte. Die navorsers van die verslag vra dat wetstoepassers oor landsgrense heen saamwerk om misdaadnetwerke te ontwrig. Ivoor, renosterhoring en die skubbe van ietermagogs is van die gewildste items vir sluikhandel met Asië.