Duitsland het gevorder na die kwarteindrondes van die UEFA Nasiesliga-toernooi, na hulle Maandagaand vir Nederland met 1-0 verslaan het.
Die Duitsers het vir Nederland lank in toom gehou, en al het die Nederlanders meer as helfte van die balbesit geniet, kon hulle slegs drie skote na die doelhok toe afvuur, met slegs een wat op die merkie was.
Duitsland se aanvallende speler, Jamie Leweling, het sy span se neus voor gekry met ‘n doel in die 64ste minuut.
In ander uitslae van gisteraand het Frankryk vir België met 2-1 verslaan, Israel het met 4-1 vasgeval teen Italië en Wallis het vir Montenegro met 1-0 verslaan.