Die 2 900 Suid-Afrikaanse soldate wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo, of DRK, vir ‘n jaar lank ontplooi word, kos die land R2 miljard. President Cyril Ramaphosa het gister bekendgemaak die soldate word ontplooi as deel van die land se internasionale verpligting teenoor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, of SAOG in die stryd teen onwettige rebelle groep in die ooste van die land.
Die soldate is verlede jaar op 15 Desember ontplooi en sal in die DRK bly tot 15 Desember vanjaar. Ramaphosa het gesê die R2 miljard wat bestee word, gaan nie die weermag se gereelde instandhouding en nood herstelwerk beïnvloed nie. Die SAOG-magte is ontplooi nadat die Verenigde Nasies, of VN, se Monusco-mag hom aan die land onttrek het op versoek van die DRK-regering.
Die VN magte is reeds 25-jaar in die land en kon nie burgerlikes teen gewapende magte beskerm nie. Die VN het egter gesê geweld neem toe tussen M-23 rebelle en die Kongolese weermag. Die gevegte deur rebelle magte is glo ‘n poging om die groot minerale bronne te beheer.