Die Arbeidshof in Johannesburg het gister in die guns van die vakbond Solidariteit beslis, om die ooreenkoms tussen die vakbond en die Suid-Afrikaanse regering, rakende die land se rasbeleid in die werksplek, ’n bevel van die hof te maak. Die hoof van regsake by Solidariteit, Anton van der Bijl, het gesê die ooreenkoms bepaal onder andere dat niemand op grond van ras afgedank mag word nie, dat rasbeleide tydelik moet wees, dat ras nie meer die enigste kriteria mag wees met die aanstelling van personeel nie en dat vaardighede in ag geneem moet word. Die ooreenkoms volg nadat Solidariteit ’n klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie, ’n agentskap van die Verenigde Nasies, teen die regering se rigiede rasbenadering gelê het. Die hofbevel het ook beslis dat die bepalings van die ooreenkoms se regulasies in die Staatskoerant gepubliseer moet word.