Die vakbond Solidariteit het gister ʼn krisisberaad oor die Nasionale Gesondheidsversekering, of NGV, aangebied wat verskeie regsopsies teen die omstrede wet bekyk het. Die aanslag teen die omstrede NGV het met die beraad ʼn verenigde front gekry. Verskeie politieke partye, dinkskrums en drukgroepe wat die beraad bygewoon het, het hul voorneme te kenne gegee om mekaar se optrede teen die NGV-wet te steun – hetsy deur litigasie, politieke prosesse of burgerlike druk.
Partye verbonde aan die Veelpartyhandves beoog onder meer om ʼn artikel 80-aansoek voor die Konstitusionele Hof te bring om die NGV-wet so gou as moontlik ongrondwetlik te verklaar. ʼn Derde van parlementslede se steun word benodig om só ʼn aansoek te laat slaag en kan met die verkiesingstyd waarskynlik nie deurgevoer word nie. Die ACDP-LP, Marie Sukers, sê haar party is ook van die begin af sterk teen die wetgewing gekant.