Die vakbond Solidariteit het gesê dit het kennis geneem van die nasionale Tesourie se voorstel om die implementering van die tweepotstelsel by pensioenfondse in Suid-Afrika met ʼn jaar uit te stel. Hierdie stelsel stel mense in staat om een-derde van hul pensioenspaargeld voor aftrede te onttrek. Volgens die oorspronklike skedule sou die stelsel op 1 Maart 2024 geïmplementeer word, maar die Tesourie beoog nou om die datum na 1 Maart 2025 uit te stel. Die netwerkorganiseerder van die Solidariteit Finansiesnetwerk, Rickus Botha, het gesê hierdie voorgestelde uitstel van en wysigings aan die tweepot-pensioenfondsstelsel beloof om ʼn beduidende impak te hê op Suid-Afrikaanse pensioenarisse en die manier waarop hulle met hul geld omgaan. Solidariteit sê hulle finansiesnetwerk sal die proses fyn dophou.