Grootskaalse brandskade in die Vrystaat kan luidens verskeie nuusagentskappe moontlik aan kwaadwillige brandstigting toegeskryf word.
Maroela Media berig by monde van die VF Plus dat die afgelope week se verwoestende brande onder meer tussen Bloemfontein en Bultfontein, asook by Theunissen en Welkom, reuse verliese vir die landbousektor tot gevolg het.
Jan van Niekerk, Vrystaatse leier van die party, sê hulle dring aan dat die Vrystaatse polisiekommissaris, Baile Motswenyane, alle moontlike hulpbronne inspan om die skuldiges op te spoor, en om genadeloos teenoor brandstigters op te tree.
‘n Boer van Theunissen het aan Netwerk24 gesê beeldmateriaal van sekere landelike kringtelevisie-stelsels wys duidelik hoe die veld by Theunissen Donderdagaand met opset aan die brand gesteek is.