Soveel as vyf-komma-vier miljoen saakdossiere is die afgelope vyf jaar deur die polisie gesluit weens onvoldoende bewyse. Dit was die antwoord van die minister van Polisie, Bheki Cele, wat skriftelik op parlementêre vrae deur die DA oor die kwessie gereageer het.
Die DA se Andrew Whitfield sê in reaksie hierop dit beteken dat byna drieduisend sake daagliks gesluit word en dat die slagoffers van misdaad nooit geregtigheid ontvang nie. Hierdie sake wat gesluit word sluit misdaad soos grusame moorde, verkragtings van familielede, aanrandings en ontvoerings in. Hy sê dit is net weereens ʼn bewys dat die land se speurdiens-afdeling oorlaai, oorwerk en onderbeman is.