Die Vryheidsfront Plus sê sowat R29 miljard sal benodig word om die Vrystaat se paaie te herstel. Die bedrag is aan die VF plus gegee in antwoord van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer tydens ‘n portefeuljekomitee-vergadering. Armand Cloete, ‘n VF Plus lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer, sê die totale begroting vir die Vrystaat beloop sowat R41 miljard. Die herstel van die provinsie se paaie maak dus 70% van die totale begroting uit. Cloete sê hierdie departement se huidige begroting vir die komende finansiele jaar is R3,3 miljard wat aangewend moet word vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer. Voorts het die departement ook erken dat vyf padkontrakteurs tans deur regsprosesse beslis word. Die waarde van die projekte beloop meer as R98 miljoen. Intussen bly broodnodige herstelwerk aan paaie onafgehandel. Daar is ook eise vir skade as gevolg van die paaie teen die departement van R65 miljoen. Cloete sê die reuse bedrag wat nou benodig word om paaie te herstel is die gevolg van drie dekades se wanbestuur, swart ekonomiese bemagtiging en korrupsie van die ANC-regering.

error: Inhoud is beskerm !!