Die raadsvergadering waartydens ‘n nuwe uitvoerende burgemeester vir die Mangaung metro vanoggend verkies sou word, is uitgestel. Dit terwyl chaos steeds vandag buite die Bram Fischer-gebou, of glaspaleis, heers. Die stakende munisipale werkers is gister deur polisie uit die grondverdieping van die gebou gejaag nadat hulle oral vullis gestrooi het en die groot sokkerbal by die ingang gebreek het. Die stakende werkers staan vandag in die tuin van die glaspaleis wat nogsteeds gesluit is. Raadslede kon nie die gebou binne gaan vir die spesiale raadsvergadering nie. Die ANC het vroeër bekendgemaak dat die oud-MK lid, Gregory Nthatisi, sy burgemeester-kandidaat is maar dis nou Lawrence Mathae wat onlangs die speaker-kandidaat van die ANC was. Die opposisie se kandidaat is die voormalige burgemeester, Pappie Mokoena. Opposisie-raadslede het vanoggend onder die bome gestaan en tel om te kyk of daar ‘n kworum is. Die polisie is steeds teenwoordig.