Uit al die belasting wat die staat jaarliks invorder, word 20% aan rente op die land se rekord hoë vlakke staatskuld bestee. Daar is slegs twee weke oor voordat die minister van finansies, Enoch Godongwana, sy nasionale begroting vir die 2024/2025 boekjaar ter tafel lê.
Dit terwyl die gevaarligte van toenemend onvolhoubare vlakke van staatskuld al hoe meer flikker. Netwerk 24 berig die staat se skuld bly die begrotings item wat die vinnigste groei. Dit neem steeds posisie een of twee in op die lys van grootste staatsuitgawes. Die rente op die staat se skuldlas van meer as ses-miljard-rand sal die jaar R397 miljard wees.
Dit is meer as een-miljard-rand wat die staat elke dag aan rente moet betaal. Die regering gaan waarskynlik nie in ‘n verkiesingsjaar hoër belastingkoerse aankondig nie, maar kenners maan daar sal wel ‘n manier gevind word om meer geld uit belastingbetalers te tap.