Na ‘n chaotiese verkiesing wat deur tegniese probleme geteister is, kon Namibiërs vandag na 36 stempunte terugkeer. Die verkiesingskommissie het ingestem om die stemmery vir ʼn tweede keer te verleng, en dus het Namibiërs tot Saterdagaand kans om te stem.
Volgens Maroela Media is die spanning, in die gewoonlik stabiele en vreedsame land, besig om toe te neem. Die opposisieparty het versoek dat die stemproses opgeskort moet word en het die verkiesing as ʼn “bedrogspul” beskryf. Hierdie verkiesing is ʼn deurslaggewende een vir Swapo, ʼn party wat die mineraalryke land sedert onafhanklikheidswording 34 jaar gelede regeer.
Swapo se regime word deur ʼn jonger generasie kiesers uitgedaag wat deur hoë werkloosheidsyfers en voortslepende ongelykheid gefrustreer voel.