Die Vrystaat word deur wegholveldbrande geteister, met sekere brande wat teen laat gistraand nog nie onder beheer was nie. Savage Breytenbach, hoof van die sambreel-brandbestrydings-organisasie, Mafpa, sê gister en vandag se weerstoestande skep ‘n uiters hoë gevaar vir die ontstaan en verspreiding van wegholbrande.
Sterk wind blaas nie alleen die brande aan nie, dit bemoeilik ook bestryders se gevaarlike taak, wanneer rukwinde die vlamme eensklaps in ‘n ander rigting stuur. Van die grootste brande wat aangemeld is, is dié tussen Petrusburg en Koffiefontein, tussen Kroonstad en Edenville, en die een suid van Bethlehem. Die laasgenoemde brand kon teen laat gistraand nog nie in bedwang gebring word nie. Sover bekend is niemand in enige van die brande dood of beseer nie.