Sy beweerde 2022-uitlating, dat hy buitelanders se suurstoftoevoer persoonlik in hospitale sal afskakel, besorg nou strafregtelike aanklagte teen SA se minister van sport, kuns en kultuur. Aanhitsing tot xenofobiese geweld, haatspraak en intimidasie, tel onder die klagte wat teen minister Gayton McKenzie gebring is.

MoneyWeb berig McKenzie het later aan eNCA gesê, indien daar ‘n Suid-Afrikaner, Zimbabwiër en ‘n Mosambieker aan suurstof gekoppel sou wees, sal hy die ander twee se suurstoftoevoer afsny, sodat die Suid-Afrikaner kan leef. Die aanklagte is Maandag namens die Zimbabwiese Permithouer-
vereniging by die Sandton-polisiekantoor ingedien.

Die SAKP het in 2022 ‘n klag teen McKenzie ingedien omdat hy na bewering mense om die bos gelei het deur te sê hy trek nie sy burgemeestersalaris van die munisipaliteit nie. McKenzie het egter beweer ‘n spesiale rekening is oopgemaak, omdat die munisipaliteit hom volgens wet moet betaal. Hy sou dan opdrag aan sy span gee om toe te sien dat al hierdie geld aan liefdadigheid bestee word. Hy was net meer as ‘n jaar burgemeester van die Sentraal-Karoo-munisipaliteit, toe hy sy bedanking indien.

McKenzie, wat in Heidedal in Bloemfontein grootgeword het, het vroeër 17 jaar tronkstraf uitgedien nadat hy op aanklagte van roof skuldig bevind is.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×