Die bevordering van toerisme behoort ‘n prioriteit vir die hele regering te wees. Dit is volgens die adjunkminister van Toerisme, Fish Mahlalela. Hy het deelgeneem aan ‘n Toerismemaanddebat in die Nasionale Raad van Provinsies. Die jaar se tema handel oor lewensvatbare toerismeruimtes en fasiliteite vir plaaslike ontwikkeling. Mahlalela sê as alle staatsdepartemente optimaal werk, ontsluit dit die ekonomiese potensiaal van toerisme op meer volhoubare maniere. Die hoogtepunt van toerisme-maand in die Vrystaat vind dié naweek by die Phakisa-renbaan naby Odendaalsrus plaas waar verskeie aktiwiteite en uitstallings gaan plaasvind. Die Vrystaat het sy eie Groot Vyf toerisme roetes, die Arend-,Jagluiperd-,Springbok-,Leeu en Flamink-roete en sal uitstallings by Phakisa hê.
