Solidariteit glo die Suid-Afrikaanse regering sit die pot mis as hulle dink die land se betrokkenheid by die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, of Agoa, is veilig en behoue. Suid-Afrika se posisie is opnuut onder skoot. Die Amerikaanse senator, Chris Coons, het volgens berigte weereens vir die heroorweging van Suid-Afrika se voordele ingevolge die Agoa-wetgewing gevra. Die hoof van internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging, Jaco Kleynhans, sê daar is tans ʼn sterk beweging binne die Amerikaanse senaat se buitelandse-sake-komitee dat Suid-Afrika se deelname aan Agoa heroorweeg moet word. Verskeie senatore voel dat Suid-Afrika se buitelandse beleid regstreeks vyandig teenoor Amerikaanse belange staan.