Die vakbond Solidariteit, AfriForum en die Suid-Afrikaanse regering lewer hierdie week voorleggings in ʼn sitting van ʼn komitee van die Verenigde Nasies oor raswette in die land. Die bestuurshoof van Solidariteit, dr Dirk Hermann, het gesê die vakbond gaan vandag aan die VN se Komitee vir die Beëindiging van Rassediskriminasie in hulle voorlegging vra dat wetgewing oor ras in Suid-Afrika stopgesit word. Hy het gesê rassewette het genoeg skade gedoen en die land het nie meer die luukse om poste op grond van ras te vul nie. Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, gaan namens die regering ook ʼn voorlegging aan die komitee lewer. Minister Lamola gaan verduidelik hoe die Nasionale Aksieplan Teen Rassisme en Diskriminasie toegepas word.