Die Suid-Afrikaanse regering het ‘n reuse bewyslas wat hy in die saak teen Israel by die Wêreldhof aanhangig gemaak het. En al sou die hof beslis dat Israel aan volksmoord skuldig is, is die kanse skraal dat die uitspraak tot ‘n wapenskietstilstand sal lei. Netwerk 24 berig kenners is dit eens dat Suid-Afrika eers sy eie huis in orde moet kry voordat hy die vinger na ‘n ander land kan wys. Die twee regerings sal Donderdag en Vrydag teenmekaar te staan kom in die Internasionale Geregshof in Den Haag. Die Suid-Afrikaanse regering poog om die Israeliese regering as volksmoordenaars uit te maak. Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit het gesê daar is baie hekkies waaroor jy moet kom om volksmoord te bewys. Menseregtevergrype of misdaad teen die mensdom is waarskynlik makliker om te bewys. Kleynhans het gesê Suid-Afrika sal moet bewys dat die Israeliese weermag opsetlik burgelikes wou doodmaak en nie net Hamas-lede nie. Prof Theo Neethling van die Universiteit Vrystaat het gesê Israel kan aanvoer burgerlike slagoffers was bloot kollaterale skade omdat Hamas in tonnels skuil. Israel kan ook aanvoer hy het derduisende boodskappe gestuur waarin burgerlikes oor die aanvalle gewaarsku is. Die kenners glo Suid-Afrika gaan nie sukses met die hofsaak behaal nie.