Suid-Afrika het aangekondig dat die invoer van lewende pluimvee, eiers en vars of bevrore pluimveevleis uit Brasilië verbied word.

Freight News berig gister se aankondiging volg op ’n uitbraak van voëlgriep in Brasilië.

Die verbod help om Suid-Afrika se voëlgriep-vrye status te beskerm.

Invoere van hittebehandelde pluimveeprodukte en goedverpakte produkte wat voor 30 April 2025 verpak is, word steeds toegelaat.

Die Departement van Landbou sê hulle werk nou saam met Brasilië om die situasie dop te hou en verseker dat nodige inligting uitgewissel word.

Volgens IOL sê die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging plaaslike boere het genoeg kapasiteit om voorsiening te maak.

Die bedryf verwerk tans tot 22,5 miljoen hoenders per week. Dit is meer as genoeg om te voldoen aan die vraag, veral in die kouer maande wanneer verbruik laer is.

Brasilië verskaf sowat 18% van Suid-Afrika se hoenderinvoere.

Dié invoere is meestal vir verwerkte produkte. Suid-Afrika se plaaslike voorsiening bly dus stabiel en daar word nie verwag dat pryse skerp sal styg nie.

1 Comment

Comments are closed.

error: Inhoud is beskerm !!