Dit het tien jaar van onderhandeling geverg maar Suid-Afrikaanse tafeldruiwe het nou uiteindelik toegang tot Filippynse markte gekry.
Suid-Afrika word, volgens Maroela Media, beskou as een van die voorste uitvoerders van tafeldruiwe en is een van die vyf top-uitvoerders wêreldwyd.
Die bedryf speel ʼn groot rol in Suid-Afrika se ekonomie, danksy die noemenswaardige buitelandse verdienste, die werkgeleenthede wat geskep word en die bydrae wat dit tot die groei van die landboubedryf lewer.
Volgens die minister van landbou, John Steenhuisen, gaan die opening van dié nuwe mark help om die bemagtigingsplan van die departement te versterk.
Die jongste data van Statistieke Suid-Afrika wys dat die ekonomie in die vierde kwartaal van verlede jaar met 0,6% gegroei het en dat landbou een van die hoofdrywers daarvan was.
Dit word hoofsaaklik aan goeie prestasie van lewende hawe sowel as sommige veldgewasse en vrugte toegeskryf.