Politieke kenners meen dit is nie maklik vir Suid-Afrikaners om van politieke party te verander nie. Dié kenners sê egter in aanloop tot vanjaar se verkiesing die prentjie gaan blykbaar anders lyk omdat lojaliteit nie meer bo-aan die lys van redes is om vir ‘n party te stem nie.
Amanda Gouws, politieke wetenskaplike aan die Universiteit Stellenbosch, sê mense gaan vanjaar eerder stem met ‘n bepaalde vraagstuk in gedagte en rasionele keuses maak. Gouws sê mense het vir die ANC bly stem omdat dit ‘n vryheidsbeweging was maar dat Suid-Afrikaners wat nou 30-jaar oud word, nie onder apartheid geleef het nie. Jong mense maak vanjaar 42% van die kiesers uit.