’n Studie deur Corruption Watch toon dat baie Suid-Afrikaners nie glo dat die regering genoeg doen om korrupsie te beveg nie. Suid-Afrikaners het ook nie vertroue in wetstoepassers om korrupsie in die land se staatsinstellings hok te slaan nie. Die verslag is gister gepubliseer en beklemtoon persepsies, ervarings en die voorkoms van korrupsie in die land.
Corruption Watch het vir die opname vir twee maande lank met eenduisend-500 mense onderhoude gevoer. Die meerderheid van die respondente sê hulle wil strenger gevolge hê vir staatsamptenare wat by korrupsie betrokke is. Die hoof van Corruption Watch se veldtogte, Melusi Ncala, sê respondente het vermeld dat hulle ‘n geskenk gegee het of ‘n guns gedoen het vir polisiebeamptes, voertuiglisensiebeamptes, verkeersbeamptes, aanklaers en landdroste.