Oorgrensmisdaad, onwettige handel en migrasie weens oop landsgrense is ‘n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se nasionale veiligheid en ekonomie, het president Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief gesê. Onwettige immigrante plaas druk op openbare dienste en bevorder maatskaplike onstabiliteit. Dade van geweld kom ook teen buitelanders voor en alhoewel xenofobiese geweld veroordeel moet word, moet Suid-Afrika tans bekommerd wees oor onwettige immigrasie, het hy gesê. Die nuwe grensbestuursowerheid, of GBO, sal help om die landsgrense te beveilig en immigrasiewette toepas. Volgens Netwerk 24 het die VN ook onlangs opgemerk dat die land toenemend ‘n deurgangsroete word vir misdaadsindikate, mensehandel, dwelm-en wapensmokkelary.