Sun City gaan sy naam gestand doen deur sy nuwe grootskaalse sonkragaanleg wat onlangs by die oord opgerig is en wat ook krag aan Jan Alleman beskikbaar sal maak. Meer as 2 500 sonpanele stel Sun City nou instaat om die las op die nasionale kragnetwerk aansienlik te verminder, berig Maroela Media. Die minder krag wat Sun City nou gaan gebruik, kan aan die onmiddellike omgewing beskikbaar gestel word om te gebruik. Die aanleg sal ‘n ekwivalent van meer as 2 miljoen kilowatt per jaar verseker, wat direk in Sun City se kragnetwerk ingestoot word. Dit is genoeg om 329 gemiddelde huishoudings vir ‘n jaar van krag te voorsien.