Meer as 120 aasvoëls is in die Krugerwildtuin dood aangetref, nadat stropers ‘n olifantkarkas vermoedelik met landbouplaagdoders vergiftig het.
Maroela Media berig dit is glo om die liggaamsdele van die voëls vir die onwettige wildhandelbedryf te gebruik.
Die gebruik van plaagdoders hiervoor is ʼn groeiende probleem in Suid-Afrika en bedreig nie net aasvoëls nie, maar ook spesies soos leeus wat vir moetie of tradisionele medisyne geteiken word.
Die jongste voorval is ’n ernstige terugslag vir die aasvoëlbevolking in die Krugerwildtuin, waar daar steeds gewerk word om die skade na vorige vergiftigings te probeer beperk.
In die jongste voorval is minstens 84 aasvoëls lewend gevind en danksy ’n buitengewone spanpoging van SANParke, die Trust vir Bedreigde Wildlewe asook verskeie veeartse en rehabilitasiesentrums, kon meeste van dié voëls gered word.