Honderde dokters en verpleegkundiges wat vanjaar hulle studies voltooi het, weet nog steeds nie waar hulle volgende jaar hul verpligte gemeenskapsdiens-jaar, of Zuma-jaar, moet doen nie. Netwerk 24 berig gebreke in die departement van gesondheid se stelsel waarvolgens gesondheidswerkers vir ‘n plasing moet aansoek doen, is glo die oorsaak van die verwarring. Daar is ook bewerings van ‘n gesloer weens begrotingsbesnoeiings. Dr Joe Phaahla, minister van gesondheid sal volgende week ‘n mediakonferensie oor die probleme hou. Volgens die departement van gesondheid is diegene wat aan die basiese vereistes voldoen, reeds geplaas. Van die afgestudeerde studente wat wel plasings gekry het, kla ook dat dit nie in provinsies is waarvoor hulle aansoek gedoen het nie. Die DA-LP se woordvoerder oor gesondheid, Michele Clarke, het gister gesê die versuim om gesondheidswerkers uit te plaas, kan tot werkloosheid lei. Aansoeke vir plasings het reeds op 23 Oktober gesluit.