Die voormalige LUR van onderwys in die Vrystaat, Tate Makgoe, se hoë profiel begrafnis het drie-komma-vier miljoen rand gekos.
Die bedrag was vir drie geleenthede.
Dit was die antwoord van die Vrystaatse Premier, Mxolisi Dukwana, na ‘n vraag van die DA in die Vrystaatse wetgewer.
Die uitgawes sluit in kos en versnapperinge vir meer as R1,2 miljoen, verskeie kunstenaars wat tydens die geleenthede opgetree het vir R355 000, blomme vir R59 000, twintig banke vir die familie en belangrike persone tydens twee van die geleenthede vir R28 380.
Die kis en die graf het R140 000 gekos.
Geld is ook bestee vir rooi tapyte, projektors, klanktoerusting en toilette.
Die DA sê dit verbaas die party nie dat die tender aan C-Squared toegeken is nie.
Dit is dieselfde maatskappy wat in die hof was en deur die Valke ondersoek is vir onreëlmatighede met die Mafuce-fees tender in 2022.
Die DA beplan om ‘n klag by die Openbare Beskermer te lê.