Die burgemeester van Kaapstad, Gordon Hill-Lewis, het gister tydens ‘n media-sessie met die minister van polisie, Bheki Cele, gesê een van die taxi-eienaars se eise is dat daar nie op hul voertuie beslag gelê word as hulle oor rooi ligte ry nie. Netwerk 24 berig Hill-Lewis het duidelik verskil hoe die geweldadige protesaksie sedert verlede week gestop moet word want Cele wil onderhandel terwyl die stad Kaapstad nie onderhandel met ‘n taxi-mafia wat met geweld dreig nie. Hill-Lewis het gesê in Kaapstad word die wet gerespekteer. Om met misdadigers te onderhandel is nie die boodskap wat aan Suid-Afrikaners uitgestuur moet word nie, het hy gesê.